(Vir Carmia op haar 18e)
My liewe skaterlag, kaalvoet, omgee kin
Hoe het 18 jaar verby gespring
Min moeite, baie lekker, soms regmaak, keer op keer
Met nuwe stukkies aanmekaar gesit en telkens weer probeer
My grootste belofte vandag aan jou
Waaraan jy ‘n leeftyd vas kan klou
Ons huis sal altyd jou toolbox wees
Altyd in die vlees, meestal in die gees
Wanneer jy vasdraai met hartseer goed
Verloor nie vir een oomblik moed
In ons huis is daar skroewedraaiers wat werk
Met liefde sal als loskom, sonder ‘n merk
Wanneer verlange in jou bors kom bly
En jou kop met snaakse dinge stry
In ons huis is daar ‘n tang om te gebruik
Wat verlange uit jou bors trek en snaakse dinge fnuik
Wanneer spykers in jou rug die trane laat loop
En jy wens op antwoorde met baie hoop
In ons huis is daar ‘n hammer net van staal
Wat alle wanhoop en hartseer uit jou rug uit kan haal
Wanneer vrae begin en antwoorde min
En oë vol trane dink, maak dit sin?
In ons huis saag ons wanhoop met ‘n helse spoed
Met saagsels wat waai en jou opvul met moed
So my kind, jy’s nou groot, die wêreld omhels jou
Jy het jou eie toolbox oor jare ingebou
Help ander met jou toolbox om heel te raak
Jy’s spesiaal daarmee, maak dit jou lewenstaak
Ons huis is steeds jou toolbox tot ooit en meer
Maar ons mis reeds jou regmaak, dit maak baie seer
Wees verseker dat ons, hoe onhandig ookal
Jou nooit sal laat breek, verbrokkel of val
Maar vir eers sal ons huis leeg voel
Dalk sonder sin, rede of doel
My kosbaarste stuk gereedskap op die hele aarde
Is vir nou uit die huis en vir ander van waarde
Uit ons harte is ons so erg dankbaar vir jou
Dat ons die tools in ons huis saam met jou kon bou
Ons is so lief vir jou, op ons vingers kan ons nie tel
So gaan maak vol jou toolbox om ander se harte te herstel
