Leeg

ek kyk elke 5 sekondes op die live location soos gestuur
die sekondes voel elkeen soos ‘n uur
wees veilig my kind in als wat jy aanpak
my hart is leeg, my lyf ‘n slaansak

jou kamer netjies opgepak, leeg soos nog nooit
gaan jy weer terugkom, soos in ooit
my oog vang weer die skerm, jou kolletjie beweeg nog
my gebede voel leeg, beskerm haar tog

ek het probeer trane wegsteek, maar swak daarmee
skaam skaam by die hek, skelmpies wegvee
al is die huis vol van jou menswees
is dit leeg en verskriklik bedees

boeties wou gisteraand weet by jou
wat gaan hul maak sonder jou
ek weet hul vrees is eg en die leeg ook daar
wees bedag daarop, die vrees is raar
als in my voel leeg vandag
die gat in my bors, donker soos nag
vlieg hoog my kind, met seile van hoop
en help ons om hierdie leeg se keel te knoop