Ek droom van ‘n vrou wat ‘n Ma is
Met deernis besig om haar baba te sus
Agter kospotte in ‘n groot plaas kombuis
Sy is die hart en siel van die plaas en die huis
In hierdie droom gee sy haar seuntjie vrye teuls
Windbuks, varkhok dak, krappe vang, maar tog ‘n paar reëls
Sy kyk liefdevol as hy sy eie rugby op die gras uitsaai
En help sagkuns om die bysteek met koeksoda weg te waai
In die droom hoor ek snikke van verdriet en pyn
Sy staar hartseer soos die grondpad se stof verdwyn
Met ‘n eina wat voel of sy haar hart uitskeur
Moet sy van die vyeboom, volkies en familiegrond wegbeur
Maar hierdie Ma verseker weer ‘n nuwe veilige hawe
Vir haar kinders voluit, wat ‘n gawe
In die droom sien ek steeds die verlange na hom raak
As hy sy opwagting in sy seun se oë begin maak
Ek droom verder van ‘n ma wat haar seuntjie laat braai
En hom verantwoordelikheid leer deur hom met liefde te belaai
Hierdie Ma is ook Pa en doen dit selfs beter as ander
Langs al die sportvelde om hom positief te verander
Hierdie Ma in die droom trek maar swaar met die ponde
Maar sy knip en stik nagte om vir kos vir die monde
Die handgemaakte klere het haar kinders laat blink
En haar worsiekos het sy na koningskos laat klink
Die droom gaan voortmet ‘n seun, trots in blou
Wat hom meestal met verkeerdes laat omvou
Sy keuses is bevraagteken maar meestal saamgestem
In ‘n poging om sy wilde hartjie te tem
Rebels en hardkoppig het die seun gelewe
Maar tog mettertyd na sukses begin strewe
Sy gun hom die geleentheid om die wêreld te sien
Terwyl sy stilletjies bid dat hy God sal bly dien
Hierdie seun word toe groot en ek droom van die troue
Baie mense, baie liefde, maar die verlange behoue
Met die vrou aan sy sy waarvoor sy al so lank bid
Minwetend dat hul ook met hartseer gaan sit
My droom gaan toe voort met die Ma wat weer lag
‘n Dogtertjie gebore op ouma se geboortedag
Die vrou word ‘n Ouma, ai as Oupa tog kon sien
Kleinkind en Ouma gee mekaar tien uit tien
Die seun begin verstaan van opoffer en gee
En dat hy eers voor sy eie deur moet kan vee
Hy klou dan ook vas aan die voorbeeld van sy Ma
Want daar is nou 3 wat opkyk na hom as hul Pa
In die droom sien ek hoe die Mamma Kleiner krimp
En hoe dit moeilik raak om al die gisters te vind
Die seun hoop hartlik dieselfde trots in sy hart
Gaan sy Ma se siel sus, vir liefde se part
Ek wil wakker word, die wekker is weg
Maar ek besef dit is ek wat die vaak wegveg
Dit was nooit ‘n droom, maar die werklikheid aan my sy
Dis maar net die storie Ma, van ek en jy
Almal hou tog van drome en sommiges word waar
Ons lewe nog ons s’n want dis nog nie klaar
Vir my is dit ‘n droom om jou my Ma te kan noem
Als wat ek van jou leer is iets waarop ek roem
Ek wil hê jou drukkies moet aan my klere vasklou
Ek belowe om jou altyd in my arms te omvou
Al word die lewe se gevoed op jou lyf te veel
Of daar is ‘n enorme knop in jou keel
Al raak die vingers krom en die ore so swak
Of die lyf raak seer as jy die garage regpak
Weet net dat ek gevorm is deur jou
En daarvoor is ek bitter baie lief vir jou
