Plaas vir ‘n appel en ‘n ei!

n Paar kilometers voordat jy die opstalle van die geskiedkundige plaas Mesklip bereik, sal jy ‘n eensame witgatboom, een van die weiniges in Namakwaland, regs van die pad opmerk. Vir die reisiger mag dit miskien ‘n onbeduidende boom wees. Dit bly vir my, na soveel jare, nog net so hoog soos toe ek dit die eerste keer gesien het.  Die boom was egter, hoe onbeduidend ook al – ‘n raadsaal! Daar het die Nama-kapteins al hulle vergaderings gehou. 

Kyk jy na die koppies regs daarvan, merk jy die klipstapels van Bourkespas, ‘n ewe geskiedkundige pas waarlangs die pospad vroeër jare gegaan het en swaar gelaaide transportwaens hul vragte van en na Springbokfontein en die kopermyne vervoer het. Die pas is redelik steil.  Die drywer van ‘n perdekar met ‘n redelike vraggie passasiers op, sou doodluiters aan die voet van die pas stilhou en die passasiers vra om af te klim en die pas uit te stap.  Daardie dae was die mense uitermate gesteld op hulle karperde. Hulle mag nie”gemoor” word nie en die disselboom mag ook nie tip nie.  Bo-op het hy dan stilgehou om die perde te laat blaas en kon die passasiers blaas-blaas die kar bereik.

Die oorspronklike plaas Mesklip is in 1847 van ‘n Nama-kaptein gekoop deur ene Van Niekerken. Die koopprys was iets so fabelagtigs soos ‘n ryperd, saal en toom! Vir langer as ‘n eeu het die geweldige groot plaas aan die afstammelinge van die ou patriarg behoort, is mettertyd onderverdeel aan kinders, maar Mesklip Restant se eienaar sou ‘n Van Niekerk bly. In 1957 het oom Isak Van Niekerk, beter bekend as Isak Bril, egter die plaas aan ‘n wildvreemde verkoop.  Die koopsom was darem hierdie keer nie ‘n ryperd, saal en toom nie. 

Ek onthou nou nog die vrolike, uitgesproke tant Grietjie Stefaans, wie se deure in die oorspronklike opstal altyd wawyd oop gestaan het vir togryers, vreemdelinge of familie uit die Kamiesberge op pad na Springbokfontein. Van haar huis af het geen immer-hongerige koshuiskind ooit weggestap alvorens ‘n dik sny boerbrood, dikgepleister met plaasbotter in sy handjie gestop is nie. Dierbare ou dame, die Tant Grietjie Stefaans.  Die huidige eienaar, mnr Robert Hays, het die opstal pragtig opgeknap en in sy eertydse glorie herstel. 

Daardie dae was Mesklip ‘n gesogte plaas, ‘n gerieflike halfwegstasie na die hoofdorp.  Daar het vyf netjiese woonhuise gestaan en altesaam vyftien jongmense van die plaas het kleur, fleur en swier aan die plaas gegee. 

Die koshuis en skool teen die berg was die eerste goewermentskool in Namakwaland.  Dit is in die sestiger jare gesluit en gekoop deur die Kotze-broers, Andries en Jopie. Die koshuis het hulle verander in ‘n ruim gerieflike woonhuis, maar die oorspronklike boustyl van die twee geskiedkundige geboue onveranderd gelaat.  Dankie kêrels! So ken ons julle! 

Hierdie skool het etlike seuns en dogters die wêreld ingestuur, waar hulle elkeen, op sy eie gebied, hoe beskeie ook al, sy plekkie volgestaan het. Die onvergeetlikste van hulle was ongetwyfeld wyle dr. Isak Van Niekerk, die eerste Namakwalander wat geneesheer sou word en onder sy eie mense sou kom praktiseer.  Alhoewel dr. Isak, soos almal hom genoem het, op ‘n jong leeftyd oorlede is, het hy diep spore nagelaat.  Daarvan getuig sy naam op die oue, sowel as die nuwe hospitaal-kompleks wat onlangs deur die administrateur op Springbok geopen is.  Hy was nie net geneesheer nie, maar hierdie briljante seun wat op Mesklip gebore is en opgegroei het, was ‘n diep gelowige mens, wat vir sending-bearbeiding veel gedoen het en sy eie kragte nie gespaar het nie. 

Die eerste seun wat predikant sou word, het ook op hierdie skoolbanke gesit – Ds. Koos Van Niekerk. Twee van oom Maans Archer se slim kinders sou van die eerste onderwysers word. 

Ek dink dikwels terug aan my eie veelbewoë skooldae in daardie skool en koshuis.  Vandag weet ek dat ons bevoorregte kinders was en dan is ek dankbaar dat daar in my beginskooljare twee onderwysers was soos mnr. Karel Meiring en Miss Van Zyl.  Ja, ons het “gemiss”, nie “gejuffrou” nie.

Ons koshuismoeder was die eksieperfeksie Auntie Ella Dickson.  Die netjieste mens denkbaar en daarom het die inspekteurs altyd met die hoogste lof van die skool en koshuis gepraat. ‘n Prent wat skeef gehang het, het haar irriteer, ‘n gordyn wat nie behoorlik toegetrek was nie, was ‘n doring – eintlik ‘n pendoring, in haar vlees en ’n stoel wat nie behoorlik onder die tafel ingestoot was nie, was vir haar ‘n steen des aanstoots.  Sy het altyd ‘n sambokkie saamgepiekel, maar die was meer ‘n afskrikmiddel as gebruiksartikel want toe het ons ouers mos nog gehoorsame kinders gehad. Baie kinders vandag het tog sulke mooi, gehoorsame ouers! Gooi ek dalk nou ‘n klip in die bos?

Eendag het die skool hoë besoekers ontvang.  Niemand minder nie as die destydse Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, die Graaf van Athlone.  Hy was vergesel van sy vrou, die pragtige, lieftallige Prinses Alice en hulle dogter, Lady May van Cambridge. Dit was ‘n pragtige lentedag en die blomme in volle feesgewaad vir die eregaste.  Almal wat leef en beef en asem heef het opgedaag, uitgedos in hulle spoggerigste kisklere.

Die twee groot swart karre het stadig stilgehou. Mans in volle uniform het rats uitgeklim, die deure oopgemaak, flink gesalueer en die eerste koninklikes sou hulle voete op Namakwalandse bodem plaas. Die Graaf het ‘n stywe been gehad en moes ‘n wandelstok gebruik.  Mnr. Meiring het vorentoe gestap, hulle hartlik verwelkom en hulle ‘n puik toesprakie aan die groot skare belangstellendes bekendgestel. Ons skool kinders het hulle toegesing en ons het gesing, want ons longe was gesond van die gesonde vars lug en die woord lugbesoedeling het in die verre toekoms gelê en tonguitsteek. Prinses Alice en Lady May was so oorweldig deur die blommeweelde dat hulle dit “simply unbelievable” gevind het. 

Hiervandaan sou die geselskap na Springbok gaan.  Later het ons verneem dat Sy Ekselensie so beïndruk was met die sierlike ou klipkerk dat hy die wens uitgespreek het om die daaropvolgende Sondag die erediens daarin by te woon.  Al die nodige reëlings is dan toe ook daarvoor getref en dit moes beslis ‘n groot dag vir die gemeente gewees het.

Die volgende dag sou hulle die eregaste wees op Silverfontein, die spogplaas van oom Bertus en tant Ada Roux.  Twee waardiger mense om die taak te verrig kon hulle nie begeer nie. Tant Ada was ‘n uithaler-gasvrou en daarby ‘n welopgevoede sjarmante dame. Sy sou bly gewees het om te weet dat haar skoondogter en seun, Ester en James Roux, haar pragtige voorbeeld navolg op hulle mooi plaas Rietfontein. 

Natuurlik moes ons skoolkinders toe ‘n opstel skryf oor die hoë besoek. Maar doen al die onderwysers dit dan nie vandag ook nog nie? ‘n Geleerde professor van Stellenbosch het gesê: “Some teachers go on repeating themselves from year to year and then they call it…experience!”

NS: ‘n Tweede klip in die bos?