In hierdie tye

In hierdie tye waar tyd verbyvlieg maar eintlik doodstil staan. Dit het ek gister besef, veral met die woord dood in doodstil. Wanneer al die regs van die lewe verkeerd lyk en die verkeerds ophoop in ‘n gemoed vol hoop. Selfhoop. Wanneer verpleegster Naamloos ‘n helder boodskap in my donker vooruitsigte gee:”Wanneer die medici ophou, begin God werk” Dankie verpleegster Naamloos, jy was agter jou masker soos ‘n helder koplig in ‘n donker gang. Jou woorde het betekenis gegee aan ‘n anonieme gevoel binne my. Al het ek vir eers ‘n oog wat hang, kan ek vandag steeds regop staan en die lewe direk in die oë kyk. En al hang my mond steeds skeef, is my motiewe orent en opreg. Ja, die nag was lank, die vooruitsigte en die geduld dalk bietjie min, maar die dankbaarheid oorvloedig. Die res van my lyf werk, arms en bene perfek. Denkrigtings het soms bietjie rigting nodig. Maar ek lewe!! Dankie Liewe Pappa God. Ek is weer kind gemaak in oorvloed en met absolute oorgawe. Die skewe lewe se wekroep om weer reguit te word.