Die Ballade van Cornelius Hannepoot

Voorwoord

Hierdie boek is nie geskryf as ’n dagboek nie. Nee, jy kan hom in die aand ook lees as Eskom nie jou leesgenot bederf nie. Maar dit is dalk ook ’n dagboek, want jy kan hom in ’n dag lees as jy wil.

Hierdie ballade is saamgestel uit al die stories, grappe, geselsies, films (blou en gewone kleur), cartoons en gebeure wat ek self gesien het, dalk gesien het, half gehoor het en miskien selfs beleef het. Ek het net so ’n bietjie verbeelding bygevoeg, soos ’n mens sout na smaak byvoeg om enige dis lekkerder op die tong te maak.

Met al die halwe waarhede en volle leuens sal ek verkies dat jy die storie lees soos dit geskryf is, tong in die kies. Geen mens, hond, kat, donkie of enige ander dier is beseer in die Die Ballade van Cornelius Hannepoot

skryf van die ballade nie. ’n Paar lewers, koppe, gevoelens en ego’s het wel seergekry, maar dit is waar die geweld geëindig het.

Was daar drank betrokke by die stories? Die antwoord is ja. Geen goeie storie begin met, “Onthou jy die aand wat ons daai lekker slaai geëet het?” nie. Nee, dit volg meer die lyn van, “Onthou julle daai aand wat ons so lekker brandewyn gedrink het?”

Die ballade is nie ’n fairy tale nie. Dit begin nie met Once upon a time in a land, far, far away nie. Nee, dit begin met ’n quote deur Cornelius Hannepoot. Die naaste wat die ballade aan ’n fairy tale kom, is die noem van ’n rooikopprins in een van die stories. Wag gou, noudat ek daaraan dink. Die ballade het tog nog eienskappe van ’n fairy tale, want soos ’n massering in die agterstrate van Asië het dit wel ’n happy ending.

My inspirasie vir die skryf van die ballade, of my muse, soos die fancy mense dit noem, het nie gekom van ’n mooi vrou of ’n epiphany-oomblik nie. Nee, ek het net vir ’n lang tyd niks gehad om te doen nie en was baie verveeld. Ek het toe maar gedink as elke tweede ou in Afrikaans ’n CD kan maak, dan kan elke derde ou seker ’n paar Afrikaanse woorde op papier sit en dit ’n boek noem, of hoe.

Nou ek weet die ballade is nie almal se cup of tea nie. Maar daar is mense wat nie van tee hou nie, so ek skryf maar die ballade vir julle. Julle kan dit dan geniet soos die teedrinkers hulle tee geniet. Die stories is meer ’n vier- vingers-brandewyn-en-twee-vingers-Coke-tipe verversing as ’n koppie tee. Almal sal nie van die boek hou en dit geniet nie, want die boek is nie ’n braaibroodjie nie. Daar is vloek‐ woorde in, onder-die-belt-grappies, en daar word ook gespot met mense en gebeure. Nou ek het nog nooit ’n goeie storie gehoor wat nie een van daai elemente bevat het om die storie die moeite werd te maak nie. Maar as jy mooi Die Ballade van Cornelius Hannepoot

lees, sal sekere woorde, gebeure en verwysings tog ’n klokkie lui.

“Never have they built a statue of a critic” of ’n boek oor een geskryf nie. Dink so ’n bietjie daaraan as die stories nie altyd in lyn is met jou morele kompas is nie, want die stories is eintlik heel rigtingbedonnerd as jy my vra.

Gebruik jou verbeelding en geniet die stories op jou manier soos jy jou brandewyn geniet, op jou manier.

Soos in ’n voorwoord wil ek wil net ’n paar mense, besighede, organisasies en produkte bedank vir hulle bydrae tot die skryf van die ballade.

Heel eerste wil ek die mense bedank wat Afrikaans uitgevind het. Gesnyde brood is die beste ding wat hulle nog ooit uitgevind het ná Afrikaans. Waar het jy al in jou lewe ’n taal gehad waarin jy so lekker kan gesels, stories vertel, grap‐ pies maak, vloek en tot partykeer kan sing ook?

Die Afrikaanse taal is so uniek. Jy kan kom of gaan soos jy wil, alles in een sin. As iemand vir jou vra kom jy saam, kan jy antwoord, ja, nee, ek kom saam, of ja, nee, ek bly liewers. As iemand jou vra wanneer kom jy, sê jy nou-nou. Nou dit is net ons wat nou-nou sal verstaan. Ons het ook soveel ander mooi woorde wat net ons sal verstaan, soos ’n robot, sirkel, biltong, droëwors, boerewors, boerenooi, bakkie en BRAAI. Nog ’n lekker woord is LEKKER. Lekker bly ’n lekker woord om te gebruik om enige iets te beskryf. Lekker, man.

As jy enige iemand ontmoet in die buiteland en hulle hoor jy kom van Suid-Afrika af, sê hulle heel eerste in hulle land se aksent, “Oh, Nelson Mandela” en “Ak smak bwraai kewaai”. In Afrikaans beteken dit “ek smaak braai kwaai”. En dan sê hulle “Do you know Cornelius Hannepoot? He is a lekker ou. Please send him my regards.”

Afrikaans se woordspeling en dubbelsinnige betekenisse is uniek. Jy kan dieselfde woord in een sin gebruik vir twee heel verskillende betekenisse. Byvoorbeeld, ek het te veel Ouma Die Ballade van Cornelius Hannepoot

wholewheat beskuit geëet, toe beskyt ek myself. Of soos Worsie Visser gesing het, Die hond het my beskuit … van die tafel af gesmyt. Dit maak ons taal so uitstekend.

Ongelukkig en baie tragies het Afrikaans soos die renoster geword: ’n bedreigde spesie. Afrikaans word ook gestroop vir ’n rede wat glad nie sin maak nie, net soos die renoster.

Daar is nog soveel goeie voorbeelde wat ek wil noem, maar ek sal stadig moet gaan. Die ander bedankings moet ook nog gedoen word. As ek so aangaan, sal die hele boek net uit die voorwoord bestaan.

Ek wil graag die brandewynvervaardigers bedank. Bran‐ dewyn het meer name as ’n eersgebore kleinseun. Dit is bran‐ nas, branfien, brandy, karatewater, Kraaifontein Cocktail, vuil Coke, gallopsop of sommer net ’n dubbel ook. Elke vervaardiger het sy eie bydrae gemaak, of dit nou ’n plat, ronde of ovaal bottel was. Selfs die gevaarlike bottel wat met die tou vasgemaak is, het sy bydrae gelewer. Julle is soos mense: elkeen het sy eie karakter en elkeen bring verskillende karakters na vore. Ek wil ook net graag iets regstel rondom brandewyn. Almal sê altyd brandewyn maak jou aggressief, maar daar is iets wat jou meer aggressief maak as brandewyn. Dit is tee. Uit ondervinding het ek gesien ’n man kan ’n bottel brandewyn uitdrink en sy vrou twee koppies tee. Jy moet sien hoe aggressief raak sy vrou. ’n Lewenslessie: as jy brandewyn inhet en sy tee, is teëpraat die laaste ding wat jy moet doen.

Dankie aan al die fiktiewe karakters, die Kose, die Piete, die Janne en al die Van der Merwes en Koekemoere. Amper vergeet ek van Mike en Kallie. Wat sou ’n storie sonder julle gewees het? Julle is legends. Julle het darem al baie goeie stories gehad. Net ’n vraag op die onderwerp: is Klein Jannie nog op skool, want hy is darem al lank op skool. Die arme onderwysers kan seker nie wag dat hy eendag moet klaarmaak met skool nie.

Die nuusmakers, moeilikheidmakers, celebrities en die politieke figure.

tieke figure. Ek wil julle ook bedank, want as julle altyd in julle raampies gebly het, sou ons maar min stories en grappies gehad het. Dankie dat julle ook net mens is, al is julle party‐ keer nie lekker mense nie.

Die ouens wat die rooikransstompies vir al die braaivure gemaak het. Ek will julle net so graag bedank, want ek weet houtmaak is nie ’n grap nie. In die Kaap braai ons met rooikransstompies en ons manne het nie die voorreg om ’n harde kool te deel om ’n vuur soos die manne uit die Noorde nie. Ons doen dit bietjie anders in die Kaap. Ons deel ons braaibroodjies en los die harde kool vir Sondagmiddagetes.

Baie dankie, Coke. Of moet julle dalk dankie sê vir bran‐ dewyn? En waar dink julle sou julle vandag gewees het in Suid-Afrika as dit nie vir brandewyn was nie? Brandewyn was die rede vir julle bekende slagspreuk: Coke, a taste for life. As een van ons die slagspreuk moes geskryf het, sou dit meer in die lyn van Brandy and Coke, a taste for fight gewees het. Weereens dankie, Coke, want dubbelbrandewyn en Pepsi klink net nie dieselfde nie.

Die ysters wat die ys gemaak het: julle is net so ’n belangrike element in die Taste for Fight-mix. Gevriesde Brussels sprouts maak nie die dop so lekker koud soos die eskimo- lollipops nie.

Die WAGS: al die Wives And Girlfriends. Ek sal nie van julle vergeet nie. Jislaaik, ek moet vir julle baie dankie sê. Julle moet hare op julle tande hê met ons klomp Afrikaanse, braaiverslaafde, brandewynbesmette, nie-groente-etende, slaaivermydende, sportliefhebbende landboutegnikuste. Al dieselfde stories waarna julle oor en oor moet luister as ons ietsie gevat het. Al die maak van die braaibroodjies, aartappel‐ slaai, “die bring ’n bak vir die vleis”. Die nou en dan se “gooi daar vir pappa nog ’n dubbel” word altyd waardeer. Elke keer wat julle moet hoor “ons gaan nóú braai” terwyl die vleis nog in die deep freeze is. Neef Barry verduidelik dit so mooi.

Die Ballade van Cornelius Hannepoot

Dames, ek voel julle pyn, en ek sê weereens baie dankie. Kan ek net vra dat julle ’n bietjie stadig op die tee sal wees, asseblief.

Laaste maar nie die minste nie, ons regering en ons kragverskaffer. Waaroor sou ons gesels het om ’n braaivleisvuur as dit nie vir julle was nie? Hoe minder julle doen, hoe meer het ons om oor te gesels.

As ek dalk iemand uitgelaat het in die bedankings, sal ek hopelik later onthou en julle in die volgende boek bedank.

Die Cornelius-konsternasies

Genoeg van die voorwoord, laat die ballade begin. Raak vir my rustig en gooi vir jou iets om jou keel te bederf. Sit jou bril op, skop jou skoene uit. Stuur die kinders kooi toe en geniet die Ballade van Cornelius Hannepoot soos jy wil en op jou manier .