Soos daar altyd ʼn storie of ʼn “myth” is van ʼn plek wat niemand weet of dit regtig bestaan nie. Legendes en verhale wat mense jou van vertel wat self daar was maar geen bewyse het nie. Amper soos mense wat al “aliens” gesien het of deur hulle op gepik is vir eksperimente. Daar is altyd die storie maar nooit bewyse van die bestaan nie. Die naaste aan bewyse is gewoonlik ʼn bitter swak gefokusde foto. Met al die nuwe tipe selfone en filters word daar nog steeds swak foto’s geneem van die onverklaarbare dinge. As jou foto neem vernuf so goed was soos jou foto’s op Instagram sou ons dalk genoeg bewyse gehad het dat “aliens” wel bestaan want jy het ʼn “selfie” saam met een geneem.
Stories oor verlore stede soos Atlantis( nie Atlantis in die Kaap nie. Dit bestaan regtig). Atlantis die onder water stad waar Aquaman AKA Kahl Drogo van Games of Throne bly. Shangri-La The place where wisdom and enternal youth are preserved. El Dorado “The city of gold” en ons eie Suid Afrikaanse weergawe Egoli Plek van goud. Ons het darem al een van die mythical places opgespoor met baie goeie kwaliteit foto’s oral op sosiale media. Dit is The Palace of the Lost City. Dit sit in Rustenburg.
“Stories, Legends are made of”
Ek vat eendag die langpad Noord. Nie Noord Transvaal nie maar Noord Kaap toe. Twee redes vir my Noordelike reis is dit is Blommetjie tyd in Namakwaland en my een maat verjaar. Nou die jare het al aangestap want laas wat ek by sy verjaarsdag was, was ons en die blommetjies nog iets om na te kyk. Nou lyk ons meer na ʼn droë rangskikking as ʼn lente bloeisel.
Ek trek toe weg op ʼn klein Saterdag vanuit die Noordelike voorstede. Deel van my beplanning is om rustig te ry en oor te slaap op ʼn paar klein dorpies en bietjie die kultuur van die dorpies te verken.
By my eerste oornag punt vra ek die dame by ontvangs waar is die beste watergat in die dorp. Sy antwoord bitter vinnig “Hier is net een bar op die dorp” Dis ons beste en enigste bar. Ek raai u aan om maar liewer te stap soontoe want as die eienaar Loshand Hanekom begin die dop vryhand gooi gaan meneer ons laaste en enigste stop straat omry vanaand. Ek vat maar toe die dame se raad want my versekering gaan my verseker nie glo dat ʼn stopstraat bordjie voor my ingehardloop het op ʼn Woensdagaand nie. Ek dink ook nie daar is ʼn spaar stop straat bordjie in die Munisipaliteit se store nie. Ek dink nie eers hulle het ʼn Munisipaliteit nie. Any way
Ek stap toe die beste bar op die dorp binne en ontmoet toe die eienaar Loshand Hanekom. Met sulke groot hande kan ek verstaan dat hy los hande ʼn vark dop kan gooi. Dit was nog vroeg aand en dit was maar stil in die bar. Langs my sit ʼn Oom en drink ʼn lang rum en Coke. Ek stel my voor aan die Oom. Ek sê naand Oom, my naam is Hannepoot, Cornelius Hannepoot. Hy groet terug naand my maat die naam is Lesbian, Lesbian Liebenberg. Ek raak so stil en kyk die Oom met sulke groot oë aan. Hy sê ontspan Hannepoot dit is net my bynaam. Hy lig sy broekspyp op en wys toe sy houtbeen. Dit is ook nie Lesbian Liebenberg nie dit is Less been Liebenberg. My pelle het my die naam gegee omdat ek net een been het. Ek weet toe nie of ek moet lag of om die Oom jammer te kry nie. Ek probeer toe die onderwerp verander en vra die Oom of hy hier bly. Hy sê, nee ou maat ek is net vir die aand hier. Ek reis bietjie deur ons land en maak ʼn bietjie nuwe memories. Ek het besef ek het net ou memories en dat ek altyd net praat van die goeie ou dae. Wat van die nuwe goeie dae. Ek vra toe, nuwe goeie dae. Hy sê toe, ja nuwe goeie dae want môre is hulle ook in die goeie ou dae gesprekke.
Na ʼn hele paar brandewyne en rums vra ek vir Oom Less been wat hy vir ʼn lewe gedoen het. Hy sê toe Hannepoot ou maat ek het al baie goed in die lewe gedoen maar die lekkerste ding wat ek gedoen het was, ek het gelewe. Ek het voluit gelewe. Ek het soveel mense in my lewe ontmoet en soveel vriende gemaak. Plekke gesien en baie goeie herinneringe gemaak. Meeste van my vriende is nie meer vandag hier nie maar dit stop my nie om nuwe vriende en herinneringe te maak nie. Ek se toe jislaaik Oom, dit is nogal diep maar waar. Ek vra toe hoe kan Oom dan so positief wees met net een been. Hy sê hoe kan mense so negatief wees met twee bene. Hy sê toe dit is eenvoudig “Your life becomes a masterpiece when you learn to master peace”. Ek se toe shit nou het Oom my in ʼn flat spin. Ons moet nou eers ʼn Jagermeistertjie drink dat die woorde kan insink by my. Ek bestel toe 2 Jagermeisters en Ou Loshand gooi maklik loshande die grootste Jagermeister wat ek al in my lewe gedrink het.
Nadat Oom Less been sy halfjack Jagermeister afgesluk het en sy lippe laat klap het vra hy vir my, Hannepoot, en wat doen jy vir ʼn lewe. Ek sê Oom ek het al baie goed in die lewe gedoen en baie gereis. Ek probeer ook die lewe voluit lewe maar sukkel nog so bietjie. Ek probeer nog employee of the month kry vir voluit lewe. Oom Less been kyk my so met skreef ogies. Hy sê Hannepoot, jy sê jy het al baie gereis en was al op baie verskillende plekke gewees. Ek sê ja Oom dit is korrek.
Hy vra my toe, Was jy al in Makrielstraat.
Ek sê nee Oom waar is dit. Hy sê dit is nie waar is dit nie. Dit is wat is dit. Oom Less been Liebenberg begin toe vir my vertel van die legendariese Makrielstraat.
Makrielstraat is die plek waar daar altyd ʼn vuurtjie brand. Of dit in die oggend is of in die oggend ure. As jy daar kom word jy gegroet en iemand stop dadelik ʼn bier in jou hand. Vuur en bier is daar volop.
ʼn Bier vir breakfast, is normaal veral as jy vroeg oggend wettiglik gaan perlemoen uithaal. Bier vir mond higiëne in Makrielstraat is soos Listerine in Lang straat vir ander mense.
ʼn Mimosa is die vitamien drankie van keuse en “What happend in Makrielstraat never happend” is die leuse. ʼn Broffie mix is standaard 4 vingers brandewyn en 2 vingers koffie. Kaffeïen was skaars daai dae en KWV volop. Die Tequila tree wat daar groei of soos Lang straat se mense dit sal noem “suur lemoen boom” sorg vir die voorkoming van Skeurbuik. Die Makrielstraters is sout van die aarde, hulle het net suur lemoen nodig gehad vir ʼn lekker Tequila-tjie.
Met die eerste Makrielstraat generasie, die pioniers was daar niks. Nie eers ʼn Makrielstraat nie. Net ʼn swart M geverf op ʼn wit kalk geverfde klip met ʼn grond pad. Daai dae se grond paaie was van so aard dat as jy by iemand gaan kuier en hulle vra of jy nog ʼn dop wil hê moet jy mooi dink want jy moet nog huis toe loop met daai grond pad. Daai grond pad het ʼn bynaam gehad. Slinger laan. Groot tone was meer oop as wat die manne se koppe was. Jy moes jou voete lug vir al die gate in die pad. Alles was self gemaak en gebou daai dae. Plotte is skoon gemaak en trekkers het bome uit getrek om plek te maak, vir ʼn lekker plek. Karavane was daar getrek met hout huisies wat tente vervang het soos CD’s TDK tapes vervang het. Die pioniers het vooruit beweeg. Daar was warm water as jy onthou het om die Donkie te stook. Vordering was so gemaak dat daar tot ʼn dubbel dekker bus aan geskaf was. Daar was net een bus stop en daar het hy gestop en bly staan sodat niemand die bus kan mis nie. Maak nie saak hoe laat jy daar aankom nie. Die bus het altyd vir jou gewag.
Praat so van wag, wag laat ons nog so ʼn doppie vat sê Oom Less been vir Ou Loshand Hanekom. Loshand gooi daar vir ons man, man ʼn dop. Hulle het seker Ou Loshand se hand met Q20 gespuit want wragtig nou is Loshand, los hande die losste hand wat ek ken. Ek het nie gedink jy kan ʼn dop so sterk gooi soos Jan Wilkens nie. Daai dop was so skoon, hy het my sommer skoonveld geslaan. Soos ou Jan Wilkens ook maar met die manne gemaak het.
Oom Less been vat ʼn sluk en klap weer sy lippe en vee sy mond met sy mou af. Waar was ek nou weer gewees. Ek sê by die pioniers. O ja sê hy en begin vertel verder.
Dit was lekker mense, manne met name soos David, Danie Vince en Ou Hasie.
Dit was my pelle en die eerste generasie wat daar sou bly en die legende begin.
Nog name soos Pops, Cliffie, Hoender, Mechanic, Kanala en Vlekkie val my nou ook by. Oom Less Been vat nog ʼn sluk rum. Hy begin met ʼn volgende lys van name wat soos ʼn “roll call”af tick in sy gedagtes. Meester bouer, Uil, Mossie, Chappie, Skollie, Kleintjie, Die Rus, Wit Faan, Oom Kap, Kap en Ou Goltros ook. Daar was darem mense met gewone name ook, soos Chris, Bennie, Danny en George. Tot die honde het mooi name gehad. Whiskey en Soda was ʼn drankie van keuse en ook die keuse van 2 honde se name. Mash en Chutney is seker ook vernoem na ʼn kos dis maar seker ʼn einde van die maand kos dis. Chaka, Maks, Sluiper en Beerhond. Ek onthou die name van die honde want die vrouens het altyd maar so in die straat geroep as die honde moet huis toe kom. Die vrouens het al lank terug opgehou om die mans te roep om huis toe te kom. Mense, honde, katte en kinders was almal pelle en het lekker saam gekuier en gespeel. Jy het nie geweet van die kinders nie. Dit was veilig daar. Hulle het darem huis toe gekom as die vrouens roep daar in die straat.
Kak praat en kuier om die vuur het gewoonlik tot vroeg oggend geduur. Jy het gelag vir al die stories wat vertel word. Ware stories of ware lieg stories, dit het nie saak gemaak nie. Die einde van die storie was, dit was lekker stories, wat lekker mense vertel het. Al wanneer daar gehuil was is as jy huil van die lag. Hulle was nie net bure nie. Hulle was familie. Dit was lekker tye omdat hulle lekker mense was.
Almal het saam gebraai en saam geëet. Sommer van die rooster af en op jou skoot. Die papier bord word so half gevou in jou hand met ʼn chop en ʼn stuk wors in. Al eetgerei wat jy hoef te gewas het was jou hande as jy klaar geëet het. Die papier bord is sommer in die vuur gegooi. Daai jare was daar nie soos vandag plankie braai borde en dishwashers nie.
Met pyp karre het ons bedags langs die see af gekry en geduik en vis gevang. Jy mag toe nog op die strand gery het. Dit was nog voor Kortbroek die reël gemaak het dat jy nie op die strand mag ry nie. Blykbaar het hy gedink ons gaan die Tobies trap. Ons het daai tyd nog vis gevang en nie net gehengel nie. Perlemoen was daar volop en jy kon nog jou kwota wettig uithaal. Daar was so baie perlemoen dat as jy op ʼn bank afkom is daar nie plek op die klip vir al die perlemoen om te sit nie. Die perlemoene was so groot soos ʼn wiel dop. Of soos Loshand se linkerhand. Dit was groot goed. Hulle het sommer bo op mekaar gesit. Dit het gelyk of hulle mekaar abba. Nou dat ek daaraan dink miskien het hulle dalk net gepaar. Ek weet nie hoe lyk ʼn perlemoen as hy paar nie. Praat van paar. Ons het self ʼn paar alikreukels ook uit gehaal, grotes. Hulle sit jou hand vol. Seekos was daar volop. Jy het perlemoen op rys geëet, perlemoen sonder rys, perlemoen gebak, gestoom in bamboes, perlemoen in brandewyn gebak, perlemoen en waatlemoen, “You name it” daar was ʼn resep vir al wat ʼn perlemoen dis is.
Oom Less been vat nog ʼn diep sluk rum en Coke. Ai ou Hannepoot sê hy, dit was lekker tye. Die goeie ou dae.
My moed begin sak want ek weet wat volgende kom. Soos met alle plekke wat lekker en veilig was. Is die legendariese Makrielstraat seker nou vervalle en tot niet.
Ek begin my moed bymekaar maak en vra. Oom, is die Makrielstraat ook nou tot niet en net nog mooi, veilig en lekker in Oom se “memoiries” soos die meeste ou plekke.
Hy begin sy kop so stadig heen en weer skud. Oom Less been kap sy glas op die” counter” neer en kyk my in die oë. Hy sê, nee my fok. Jy moet daai plek nou sien. As jy dink die pioniers het die straat op die “map” gesit. Die tweede generasie het dit sommer op “Google maps” gesit. Die pioniers het die tweede generasie goed geskool. Hulle is Dux-leerlinge. Die tweede generasie is sommer gedoop die Generators want hulle het krag vir die verder bou van die legendariese Makrielstraat. Daai Generators hardloop op “Jet fuel” Ek het nou die dag daar ʼn draai gaan maak. Ek het vir die dag deur gegaan en sommer vir die week gebly, net soos in die ou dae.
Makrielstraat is nou in ʼn “resort” en nie meer in ʼn kamp nie. Makrielstraat het nou ʼn bordjie op ʼn paal wat sê Makrielstraat en nie net ʼn M op ʼn klip nie. Die grond pad is vervang met ʼn teer pad en die manne stamp nou hul tone oop teen speed bumps. Die karavane en hout huisies is vervang met steen huise. CD’s met Spotify en YoutTube. Lion Lager deur Castle. KWV is vervang deur Olof Bergh. Die donkie is vervang met solar geysers. Eskom is vervang met solar panels. M-net is vervang deur Netflix. Pyp karre is vervang met bakkies, wat kan loop waar ʼn bobbejaan met ʼn kiere nie eers kan loop nie. Leaded petrol is vervang met unleaded. Freek Burger het vir Riaan Cruywagen vervang. Die bus het vertrek nadat hy vir almal gewag het wat moes op klim. Die bus stop is nou ʼn groen area waar hulle nou karre stop.
Die tye en die infrastruktuur het verander maar nie die kultuur in Makrielstraat nie. Toe ek stop, stop een van die Generators ʼn bier in my hand en ek kan sien die vuur brand al lank al. Almal kuier nog saam en oor en weer. Hulle eet nog steeds van die roosters af maar gebruik plankie braai boorde. Papier borde word nog gebruik maar dit werk nie so lekker in die dishwasher nie. Ek het die plek nie herken nie maar ek het die gevoel herken. Die gevoel van ek hoort hier. Dit is my mense. Dit het gevoel soos my ou pelle wat ek mee saam kuier. Dit is nog steeds veilig en jy weet nie van die kinders nie. Die vrouens roep nog steeds die kinders maar oor ʼn selfoon. Ook soos in die ou dae help dit nie die vrouens roep die mans nie. Al is dit op ʼn selfoon. Hulle antwoord nog steeds nie. Ek ken nie nou al die honde se name nie. Die vrouens roep hulle ook nie meer in die straat nie want hulle moet nou in die “yard” bly.
Ek weet nie of ek dalk net ouer geraak het en ʼn bietjie sagter nie maar ek kry die gevoel die Generators mag dalk die Pioniers ʼn “go” gee toe hulle in hul fleur was. “When the student becomes the Master” val my by.
Van vinnig op ʼn ou jaar aand ʼn spit maak vir die buurtwag se mense of ʼn potjiekos kompetisie reël. ʼn Bakuzzi(swem bad agter op ʼn bakkie) maak. Gou pizzas maak in die pizza oond. Niks is moeite in Makrielstraat nie. Net negatiewe mense is moeite vir die Makrielstraters.
Toe ek my hout been afhaal en “Foot loose” karaoke met die projektor wat op die garage muur skyn, weet ek. Dit gaan ʼn lang aand raak. Ons gaan slaap as die “shooters” op raak. Ek het altyd gedink as dit by kuier kom is ek “bullet proof” maar met die Generators het ek besef hulle kuieralot. In die oggend as jy voel jy is gekwes bedien daai bliksems jou met ʼn staal punt. Die resep vir ʼn staal punt is OBS met brandewyn. Die Pioniers sou dit in ʼn tot glasie gegooi het. Nie soos die Generators wat dit in ʼn “tumbler” glas gooi nie. Nou ʼn staal punt gaan deur alles. Niks is “bulletproof” teen ʼn staalpunt nie. Nie eers ʼn babelas nie. Daai staal punt skiet dwars deur ʼn babelas.
Praat van tot glasies en staalpunte. Met Paasnaweek moet die kinders in die straat die wit harde choclate paaseiers se koppe af byt sodat die groot mense dit kan gebruik om Jagermeister uit te drink. Wat ʼn lekker kombinasie Jagermeister uit ʼn paaseier glasie. Daar staan hoeka ʼn Jagermeister masjien daar. Praat van ʼn Jagermeister masjien. Die ander apparaat wat in die straat woon is ʼn “Slush puppy” masjien. Nou as jy dink vrouens hou van “puppies”, pappie dan moet jy sien hoe “oo” en “aaa” hulle oor daai “Slush puppy”. In Makrielstraat is die honde mak maar die “Slush puppy” byt. Ek het self een van daai “Slush puppies” ge-try en ek kan jou sê, hy het my hard gebyt. Ek het gevoel ek kort ʼn klem in die kaak inspuiting na die byt van daai “Slush puppy”.
Dit is die goed wat die Generators aanvang. Ek was gou die een oggend dorp toe. Toe ek terugkom en in die kombuis in loop sien ek iets beweeg in die wasbak. Ek stap toe nader en begin net lag. Wragtig binne in die wasbak swem ʼn galjoen. Nie in skottel goed water nie maar in see water. Vroeër die oggend het een van die manne die galjoen gevang en gedink die galjoen kan nog die rugby saam met ons kyk die middag. Die galjoen het nie baie belang gestel in rugby nie. Swem het meer gelyk na sy tipe sport. Daar is darem niks so lekker soos ʼn vars galjoen nie, veral as hy vars uit die kombuis uit kom nie. Wat van die galjoen geword moet jy maar jou verbeelding gebruik ou Hannepoot. Die Galjoen en die goud vis het nie om dieselfde vuur gesit nie.
Ek sê dit kan nie waar wees nie. Regtig ʼn galjoen in ʼn wasbak. Oom Less been sê, bestel daar vir ons nog ʼn rondte. Ek soek gou die video op my foon dan wys ek jou. So waar as padda manel dra, dit is nie ʼn visserman storie nie. Oom Less been wys vir my die video waar die galjoen rustig swem in die wasbak en rugby kyk. Self Hugh Bladen word duidelik in die agtergrond gehoor soos hy kommentaar lewer. Tot Ou Loshand kyk die video en skud net sy kop. Los hand sê hy het al baie goed in sy lewe gesien maar nog nie sulke goed nie.
Oom Less been wys nog ʼn video. So as die mense Makrielstraat verlaat vir ʼn tydjie trek hulle sommer die bakkies in die sit kamer want daar staan klaar ander bakkies in die garage. Op die video sit 2 manne voor in die bakkie wat in die sit kamer staan, elkeen met ʼn dop in die hand en kyk TV. Dit lyk soos ʼn “drive in”. As jy jou arm by die bakkie se venster uitsteek draai jy sommer die rooster om.
Na al die video’s wat ek gekyk het, het dit amper soos “America’s funniest home videos” gevoel maar net “Makriel’s funniest street videos”.
Ek vra toe die generasie vraag vir Oom Less. Ek sê toe Oom, geskiedenis het bewys dat ʼn derde generasie gewoonlik nie die pyp kan rook nie en dat alles plat val met die derde generasie. Wat sal van die legendariese Makrielstraat word as die derde generasie die leisels moet oorneem. Oom Less begin weer lag en begin harder lag. Hy sê Hannepoot ek was self bekommerd oor dit gewees. Toe ek laas daar gekuier het, het ek so die jong span gekyk en besef. Met twee generasies se “training” en die goeie voorbeeld wat hulle gesien het gaan die jong span “next level” wees. Met vandag se tegnologie en kragonderbrekings is hulle klaar die “Solar panels” genoem want hulle krag raak nie op nie. As die Generators se “Jet Fuel” op raak gaan staan hulle maar die “Solar paneltjies” se batterye hou lank. Hulle gaan die vlag oorvat en Makrielstraat die Hoof straat maak. Ek sal nie verbaas wees as ek eendag in die kombuis kom en daars ʼn walvis in die wasbak nie. Soos ek sê die “Solar paneltjies” is “next level”. Makrielstraat word generasie na generasie in beter hande gelos.
Oom Less Been vra toe vir Loshand of daar nie dalk ʼn ou “witblitsie” is wat daar onder die “counter” staan nie. Elke bar het mos sy “signature” trotse “stooksel”. Loshand gooi toe daar vir ons elkeen van sy trotse stooksel. Toe hy klaar gegooi het kyk ek die glasie so en sien hoe die rook uit die glasie trek. Ek weet toe. Hier gaan my rook draai vanaand. Ek sluk daai witblits af soos ʼn kind wat castor olie afsluk. Hy moet nie jou smaak sintuie raak nie. Hy moet net reguit afval. Ek trek toe my gesig en besef dit is nie net my gesig wat getrek is nie. Die persoon agter die gesig is nog meer getrek.
Nou om die storie verder te vertel gaan moeilik wees. Ek onthou van hier af net Los hand wat die witblits gegooi het. My getrekte gesig en lyf en dat ek in die enigste stop straat van die dorp, in vasgeloop het. Die dame by die ontvangs was reg gewees. Dit is Los Hand die meeste wat ek gedrink het in ʼn lang tyd.
Ek word die volgende oggend wakker en voel ek is gekwes en swaar gekwes. Ek weet nie of ek dit gaan maak nie. Ek probeer alles onthou maar my brein sukkel. Ek voel sleg en huilerig. Is daar nie iets wat my sal beter laat voel nie. Ek onthou die shooters en bullet proof iets. Soos ʼn staal punt tref dit my wat Oom Less gesê het. ʼn Staalpunt wat deur alles kan skiet. Ek stort swaar en trek aan. Ek gaan sit aan die ontbyt tafel en vra die dame of hulle ʼn staalpunt bedien. Sy sê ʼn wat. Ek sê ʼn staalpunt. Sy sê wat is ʼn staal punt. Ek sê as ek reg kan onthou is dit OBS en brandewyn. Sy sê in ʼn tot glas. Ek sê nee, blykbaar in ʼn “tumbler”. Baie bekommerd loop die dame weg en kom later nog meer bekommerd met die staal punt in ʼn “tumbler” terug. Sy sit die “tumbler” voor my neer en ek besef dit gaan my borshare laat groei. Ek vat die “tumbler” en sluk. Ek voel hoe die staal punt deur my “keflar” slaan en dwarsdeur my gaan. Die dametjie kyk my aan of ek dalk nou gaan dood. Skielik slaan die gevoel my, nie die doodsgevoel nie. Meer ʼn nuwe lewe gevoel. Die staal punt begin my nou laat voel soos Man van Staal. Ek begin my kleur terug kry en my persoonlikheid begin stadig deursyfer. Ek bestel toe ʼn “full breakfast” en ʼn koffie. Die dametjie was tog te bly ek het nie nog ʼn staalpunt of “broffie” bestel nie.
Stadig begin die vorige aand se gebeure en stories by my terugkom. Ek vra toe vir ʼn pen en papier om notas te maak van die vorige aand sodat ek dit kan onthou en die storie kan skryf wat ek nou besig is om te skryf.
Soos ek in die storie genoem het kan ek onthou tot met die derde generasie “solar panels” en witblits en die rondlopende stop straat wat voor mense inloop. Ek dink hulle moet daai stop straat op ʼn leiband sit. As dit nie vir Loshand Hannekom was nie sou ek meer van die legendariese Makrielstraat kon onthou het. Wat ek wel vergeet het was om vir Oom Less te vra waar Makrielstraat is. Miskien het ek hom gevra of hy het my dalk gesê, ek kan nie onthou nie. Die kroeg was nog toe, toe ek ry want miskien kan Loshand onthou. Met my terug ry uit die Noord Kaap uit stop ek weer by die kroeg om te hoor of Loshand nie dalk meer informasie het oor die legendariese Makrielstraat nie. Ou Loshand vra toe of ek iets wil drink en ek sê gooi maar net ʼn skoon coke. Daar gooi Loshand, loshand die grootste coke wat ek al gesien het. Dit lyk soos ʼn “upsize me coke”. Ek besef toe hy gooi loshande alles die grootste van vuil coke tot skoon coke. Ek los toe my nommer by Loshand en sê as Oom Less ooit weer hier kom moet hy my bel asseblief.
Dit is nou 3 jaar later en ek het nog niks van Oom Less been gehoor nie.
Nou of die legendariese Makrielstraat bestaan en of dit ʼn “myth” is soos Atlantis onder die water, weet ek nie. Bestaan daar regtig sulke lekker mense. Was die video’s van die rugby kykende galjoen en “drive in” bakkies dalk AI. Het iemand dalk Hugh Bladen se stem in die agtergrond nagemaak. Ek weet nie. Dit is self ʼn “mystery” vir my.
Ek het besluit ek moet seker maak oor die “mystery” en ek gaan nie rus voor ek die “mystery” “ge-solve” het nie. Al moet ek vir Scooby-Doo en sy makkers kry om my te help.
Ek maak die “myth” van Makrielstraat my “mission”.
Dit is hoekom ek die storie geskryf het en dit graag wil “share” met die hoop dat iemand die stories of gebeure ken en dalk weet waar die legendariese Makrielstraat is. As die stories waar is en Makrielstraat bestaan. Wil ek graag dit my tuiste maak. Makrielstraat 7 klink na so “Lucky number”. Ek is seker ek gaan “lucky” wees met lekker bure. Dit klink na my Shangri-La.
Ten slotte. Een ding wat ek weet wat waar is. ʼn Staalpunt skiet deur alles

