Sagtevlei

Hy was ’n klein bruinoog seuntjie,
hande vol stof en drome,
met ’n windbuks oor sy skouer
en ’n klein motorfiets wat vinniger gejaag het
as wat sy jare ooit sou toelaat. 

Op Sagtevlei het die wind sy naam geken,
die berge van Tulbagh het hom gevorm.
Soms het hy agter die stroper se stuurwiel gesit,
voete wat nog nie by die pedale kon uitkom nie,
terwyl sy pa tussen die koring koffie gaan drink het—
oomblikke waar tyd stilgestaan het,
en hy gedink het: so voel behoort. 

Hy het rugby gespeel op gras wat hulle self gesaai het,
bloederige knieë, trotse harte,
lag wat oor die lande weggedra is.
Sy wêreld het geword die groot akkerboom voor die huis,
sy skadu ’n beskermende arm,
en die groot vyeboom agter die huis
waar somers na soet herinneringe gesmaak het. 

In die hooimied het hy na klein katjies gesoek,
op varkhokke se dakke het hy sy vryheid gevind—
hoog bo bekommernisse,
’n kind wat nog nie geweet het
hoe swaar môre kan wees nie. 

Nog voor skool hom sou roep,
het die dood sy pa uit sy arms weggeruk.
’n swaar stilte het oor die huis neergelê;
hy was die enigste man oor,
’n klein seuntjie met groot hande en ’n hart te oud vir sy jare,
gedwing om sorg te dra waar hy net verlang het na sorg.
Elke hoek van sy lewe fluister steeds sy pa se afwesigheid,
elke skadu van die stoep dra sy naam. 

Toe moes Sagtevlei gaan—
die plaas wat sy stem en sy drome geken het,
moes hy los vir vreemdes se voete.
Die aarde wat hom gevorm het, sy speelgrond en sy heiligdom,
is nou net ’n herinnering wat sny soos koue wind.
Hy loop daagliks nog deur die akkerboom se skadu,
klim die vyeboom se takke,
en elke asem wat hy neem, dra die verlange na alles wat agtergelaat is. 

Die dankbaarheid suis egter steeds deur elke gedagte, net soos dit steeds deur die Sagtevlei dennebome dartel.