Ek staan stil in die asem van genade,
en fluister dankie vir drome wat teruggekeer het.
Daar was ’n tyd toe hoop sagter gepraat het,
toe ek gedink het drome is vir ander mense bedoel.
Maar vandag kyk ek weer vorentoe,
met oë wat durf glo.
Dankbaar dat ek weer kan droom
Drome oor ‘n droomvrou –
Perfek en eg, vir ons almal.
Iemand wie se hand myne vind
in die stil oomblikke van die lewe.
Ek is dankbaar vir die beeld
wat lankal in my hart geleef het:
’n eersteling, ’n dogtertjie,
’n digter van woorde en lig,
iemand oor wie ons gedroom het
nog voor haar naam ’n klank was.
Sy dra stories in haar oë,
en hoop in haar stem.
En dan die wonder bo woorde:
die droom wat groter geword het as verwagting –
nie een hartklop nie, maar twee.
’n Tweeling.
Dubbele genade.
Dubbele lag.
Dubbele bewys dat God se hand
altyd meer gee as wat ons waag om te vra.
Ek ook het weer geleer droom deur elke dag op te staan
selfs wanneer moed min en die pad lank was.
Harde werk het my hande gevorm en my gedagtes geslyp,
en elke klein oorwinning het lig in my binneste aangesteek.
Deur aan te hou, selfs wanneer opgee makliker gelyk het,
het ek ontdek hoe krag in volharding woon.
Nooit opgee het my uit die skadu’s gedra
en my geleer dat drome terugkeer wanneer ’n mens aanhou loop.
Vandag is ek dankbaar.
Nie omdat alles perfek is nie,
maar omdat drome waar word
wanneer geloof leer wag.
