Suidergrens

Wie sal kan sê
waar Namakwaland se suidgrens lê?
Net dié kinders in wie se harte daardie streek
sy stempel onuitwisbaar afgedruk,
en sy ankers
onvernietigbaar daarin vasgelê het. 
Dis nét hulle wat kan voel
waar hulle daardie suidergrens bereik.
Ek is een van daardie kinders
en my hart ken sy eie bakens.
Daar waar die lou-warm wind
dwarsdeur die kamers van my hart bollemakiesie,
waar die ylblou Kamiesberge uit die verte vir my wink,
waar ek die taaibos, melkbos en die skaapbos ken,
die tontelbos en die biesiepol,
die kraalbos, skilpadbos en Xoubeeboom.
Waar alles, onverklaarbaar soms vir die vreemdeling,
eensklaps vir my MOOI word,
of die aarde nou vol in die blom staan
en of die droogte reeds sy pikswart kleed
oor die skouers van my barre wêreld kom hang het
dan sal dit nog vir my mooi bly,
so ‘n hartseer-mooi,
‘n knop-in-die-keel mooi.
Daar weet ek met die absolute sekerheid
en met jubelende ekstase –
Hier begin my wêreld,
hier plant ek my bakens vir jou suidergrens.