Veldkos

Boeroes grawe ons op die landal op die Xamena se spoor,

smaak voorstebos toe – waterland!

Xjytjee se malvablom is pragtig

maar die knol is ryk en kragtig.

‘n Ander heerlikheid is ouroena.

Sy is ‘n niggie van djwa-djwas,

die is ietwat giftig, kan dalk pla.

Slymstok en bokhorinkies

is swaar gelaai met voedingswaarde

vir elke verslankingskuur op aarde.

Die bloedrooi Kootjie-nam-nam

dien dieselfde doel as “chewing-gum”

Kambrotjies groei graag tussen klippe

Eindresultaat? Afgelekte lippe.

Gekookte raap met melk is lekker 

dit beaam elke lekker-bekker.

Geelryp Xoenebee is heerlik soet

dit weet elke plaaskind baie goed.

Xarra lank genoeg in melk laat lê

joghurt se moses, kan ek jul sê

al moet valstande  heelwat lesopsê.

En veldkool die brediekos

maak mos alle stram ou litte los.

Namakkiesland! Jou veldkosplant!

Hou my karkas aan die brand.