Dis altyd interessant om vir mense te vra waar hulle was toe sekere lewens veranderende dinge gebeur het, bv. die eerste maanlanding, die eerste hartoorplanting, die vernietiging van die Twin Towers, ens. Ekself het ʼn eie storie vir elkeen, en so het die meeste mense, kom jy agter as jy daaroor praat.
Met ons onlangse besoek aan die Chris Barnard Hart Museum te Grootte Schuur Hospitaal, het ek teruggedink…..
Dit was Des 1967. Ons st. 9 eind-eksamen was pas agter die rug en ek het by my vriendin gekuier. Hulle het in O’Kiep, Namakwaland, gewoon, waar haar pa vir OCC (O’Kiep Copper Company) gewerk het. Ek kan nie meer onthou wat ons die Saterdag-aand gedoen het nie, maar het heelwaarskynlik laterig in die bed gekom. Daar was nie televisie nie, maar ons kon onsself goed besig hou.
Vroeg die volgende oggend het ons wakker geword van ʼn harde geklop aan ons kamerdeur en oom Danie wat opgewonde roep: “Staan op, julle twee! Daar’t laasnag ʼn wonderlike ding gebeur!” Vriendinnetjie het net gebrom en haar gesig na die muur gedraai en geslaap. Ek het ʼn rukkie gele en wonder wat dit was wat oom Danie so opgewonde gemaak het, want jy kon dit in sy stem hoor.
Altyd nuuskierig, het ek opgespring. Hy en die tannie was in die kombuis. Sy’t met blink oë voor my kom staan: “Kind, gaan roep vir Liens, want oom Danie wil vir julle vertel watter wonderlike ding laasnag gebeur het!”
Nou was ek rasend nuuskierig! Ek het maatjie gaan skud en uit die bed gesleep. Uit die kombuis het die oom geroep: “Kom nou, julle! Die nuus gaan nou-nou oor die draadloos gelees word en ek wil hê julle moet dit hoor. Julle koffie is op die voorstoep!”
Op die stoep het die oom op die trappe gesit en die tannie het teen ʼn pilaar geleun. Ek weet nie of dit die sewe- of agt-uur nuus bulletin was nie. Die son was al op – ek kan onthou hoe skerp dit in my oë was.
En daar, op die sementtrappies met die son in my oë, het ek dit gehoor.
Tot vandag toe, as iemand van die hartoorplanting praat, beleef ek daardie oomblik glashelder – die louwarm sementtrappie onder my, die koffie reuk, die omroeper se stem oor die radio en my keel wat so toe is dat nie asem kan kry nie! Hoe kan dit wees? Hoe kan iemand se hart uitgehaal word, ʼn ander hart ingesit word, en hy LEEF!!!
En oom Danie, wat met blink oë se: “En dis ʼn Suid-Afrikaner wat dit gedoen het, kinders. Dis ʼn trotse dag vir ons!”

