Struisbaai is ‘n asem wat stadig uit my bors gly
’n Plek waar tyd sy skoene uitskop en kaalvoet saam met ons loop.
Hier vou die see sy arms om gebroke gedagtes
En fluister: bly net bietjie langer
Dis waar ons rus soos skulpe in sagte sand,
Waar ons mekaar weer vind tussen stilte en sout.
Nie as wat ons was nie, maar as wat ons geword het,
Na alles wat seergemaak het.
By die wrak brand die vuur soos herinnering –
Oranje, lewendig, eerlik.
Vleis sis, vet drup, lag rol soos golwe deur die donker
Die honde hardloop oor die strand met vreugde wat nie vrae vra nie.
Spore wat môre uitgewis sal word, maar vanaand alles beteken
Hier word vriende familie, nie deur beloftes nie,
Maar deur te bly wanneer dit makliker is om te gaan.
Deur hande wat vashou
As woorde nie meer kan nie
Hier het die tweeling hul name weer teruggekry
Nie uit die monde van ander nie
Maar uit harte wat sê: julle is genoeg, presies so
Aanvaarding het hul weer heel gemaak
Carmia leef haar drome met sout op haar vel
Soos ’n vlieër teen die oop lug –
Vry, dapper, sonder verskoning.
Haar hoop steek ook ander se lewenslus aan.
En ek en Corné, ons sit net stil
Stil en kyk hoe die son bloei in die see
Ons skadus lank ons harte vol
Struisbaai word ’n belofte:
Hier het ons weer geleer om te leef
