Jip. En so sit ek in ‘n vliegtuig op die oggend wat ek langs jou wou wakker word. My hartsmens. Vir jare het jou hart my toegelaat om my drome langs die krieketveld na te jaag.
Nou laat jou hart my toe om die toekoms vir ons te bou, al is die ure dalk lank, het ons weer leer droom. Met hartelus. Saam.
Jou hart. Nogaltyd die een konstante in ons lewens. Daarom wil ek vir jou ‘n hartsbrief skryf, toebêre in ‘n geseëlde glaskoevert sodat almal kan sien, maar niemand kan weet nie.
‘n Hart is lewe, jou hart is lewe. Jou hart is uitgeruk en klop in soveel ander lywe. Die hartsklop hartroerend hard. Asem haal is makliker met jou hart. Die asem is skoon, rein en opgestop met regtigheid. Joune.
My hart……wel. Net joune. Lankal nie meer in my borskas nie, toegevou in jou hande. Glashande. Jou hande. Perfek. Almal sien die hartklop, maar jou hande hou vas.
Vyftig. Eerder in letters as syfers. Syfers is so analities. Woorde weer saggies, makliker, eerliker. Die manier hoe jy vyftig se gat geskop het tot hier. Wow. Maar jy skop met ‘n glasvoet, uit jou hart. Ferm en breekbaar, maar deursigtig en met grasie.
Dankie vir jou hartklop in ons huis. Dankie dat jou hartsritme elke sekonde in al ons koppe klop, klop soos mis en wolke aan die son se deur om weer sonskyn te bring waar ons mistig voel.
En terwyl ek aan die bokant van die wolke kyk, besef ek net…. dis hoe jou hart aanmekaar geblaas is. Om als van die ander kant te sien. Die kant wat mense nie ken nie, dalk nie wil ken nie. Maar dis die kant wat ons betower. Die bokant van die wolke, net onder die hemel, waar jy direk van gestuur is.
Lees jou hartsbrief uit jou glaskoevert. Dis met die punt van my hart geskryf. In
Liefdesletters, saam met die glimlag wat op my hart met klein hartjies gegraveer is.
Ons is lief vir jou hart. Ons is lief vir jou. Ek is lief vir jou.
Lekker verjaar. Mag vandag hartstogtelik wees. Jy is my hartsmens.
