Iewers in Namakwaland
kronkel my hart se veldvoetpaadjie
waarlangs ek in die lente stap,
tydsaam, rustig, tree vir tree.
Die paadjie het baie draaitjies
propvol heerlikste verrassings.
Dis daar waar feetjies in die maanlig dans
op maat van kriekies se viole
en heutjieheu-een-derm trom.
Nou bak die lenteson koesterend
op die potblou sporrieblommetjie
en haar tweeling-sussie Witsporrie.
Op die skugtes teebossie se blom
en die feetjiefyne uintjieblom.
Op die fraai duitsesisblom –
nes Elsie se uitgaanrok.
Langs die klapklappertjiebos
en die wilde-kanniedood
groei sowaar ‘n meidestert!
‘n Gansogie flankeer openlik
met ‘n swaar geparfumeerde stinkkruid!
By snotjieblom en poeierkwas
blom die mooiste mooi.
By die donkergroen, koel taaibos
klouter Kabouter-Kootjie-nam-nam.
By asvaal Oupa kraalbos
rank ‘n pers bokhorinkie.
Uit die heldergeel sambreel
van die skaapbos, laer nog enetjie.
Perdebos sprei haar goudgeel weelde
oor die skaam, beskeie harpuisbos.
My paadjie eindig by die klipbank
waar my Xoubee-boompie staan.
Ek kan weer die kruie ruik en proe
van gekneusde, gekookte Xoubee-blare –
1918 griep se moses-medisyne!
Ek sal omdraai en weer terugstap
dat dit goed was om hier te stap,
om hier weer MENS te wees –
brose, nietige, onvolkome mens
tussen die kleine wonders
wat die Heer se grootse skepping
met soveel glorie vervolmaak!
