Opens in a new tab

Boskuier

Met die eerste winterreens hier in die Kaap, het ʼn groot weemoed om my hart kom lê.  Die middag in die verkeer het ek skielik besef:  ek moet Bosveld toe – my oë wil doringbome sien, vaalblou vertes en diere wat nie in hokke of op die kassie is nie!

Ek het op n vliegtuig geklim en noordwaarts gevlieg, tot bo in Limpopo.  Daar het ek aan die voet van ʼn koppie, langs n dam, in ʼn kothuisie afgepak.  Dit was warm en ek kon my wintersklere afgooi.  Later het die plaaseienaar vir my kos gebring – gebraaide hoender, tamaties en avo’s.  Ongevraagd, maar omdat hy ʼn goeie hart het.

Later het sy seun vir my hout gebring – want ek wou vuurmaak!  Nie in die kaggel of in die geboude braaiplek nie, maar buite op die grond.  ʼn Staanvuur!  Seun het laggend gewaarsku:  “Tannie moet oppas!  Hier’s n waterslang wat in die dam bly!”

Die voël- en dierlewe rondom die dam was ongelooflik, en ek het alles vanaf my stoepie sit en bekyk.

Skemer-aand het ek my vuur aangesteek, my stoel nadergesleep en net gesit, net gewees.  Heelwat later het ek ʼn plonsgeluid gehoor en na ʼn rukkie het die waterslang die ligkring binnegeseil – die diamand voor sy kop so blinkhelder dat ek skaars daarna kon kyk.  Hy het in ʼn halfmaan om die vuur kom lê.  Ek het doodstil gesit – byna nie asemgehaal nie.  Na wat soos n uur gevoel het, het hy saggies weggeseil.

Toe Seun die volgende dag my hout bring:  “Tannie , hulle sê die waterslang het n diamand voor sy kop!”

“Ja, ek het gisteraand gesien.”

“Jeesss, ek weet Tannie jok!  Is die diamand groot?”   

“Soos my toe vuis”

Bedags het ek gestap – soms tot die sweet my aftap, en ander kere sommer net rondgedwaal.  Laatmiddag met die verkyker die koppie uitgeklim en die veld en diere bekyk.

Volgende middag:  “Tannie, my pa sê tannie moet oppas.  Die waterslang vang vroumense en vat hulle na sy huis diep onder die water.”

“Neewat, hy vang net mooi vrouens!”

Skemeraand weer my vuur aangesteek.  Later het hy met sy blinknat lyf weer by die vuur kom lê.  Nadat hy weg is, het ek gaan slaap, en later in die nag besef dat ek lanklaas so rustig geslaap het.  By die huis sukkel ek om te slaap.  Die nag was vol geluide – veral die jakkalse het behoorlik lawaai!

Seun, volgende middag:  “Kan ek vanaand saam met Tannie vir die slang kom wag?”

“Nee, hy sal nie kom as hier ander mense is nie”

“Maar ek sal in die huis wegkruip.  Ek wil die diamand sien!”

“Hy sal weet jy’s daar.  Hy weet alles”

Op die derde dag het ek in die badkamerspieël gekyk en gesien my gesig lyk skraler, my vel is bruingebrand, maar my oë is weer helder en my lag kom spontaan, soos ek dit gewoond is!

Nou is ek terug in die Boland.  En alles is groen, groen, groen!  Met die terugvlug het ons oor Kimberley gevlieg en ek kon duidelik die Groot Gat vanuit die lug sien.  Ook oor Ceres, Wamakersvallei, Voëlvleidam, Wellington en reg bo-oor Paarlberg gevlieg.

Dis goed om tuis te wees.  Snags kan ek die see hoor. 

Wonder die huisie en die diere dalk waar ek is?

Slaap ou waterslang nou koud snags?

Ek verlang na hulle!